Die Unika storie
Ons eerste dag
Januarie 1959 was ‘n gewone Maandag, soos elke ander Maandag. Dit was egter ook die begin van ‘n nuwe skooljaar. In die Noordweste van die stad – in ‘n voorstad wat kort daarna as Randburg bekend sou staan – het 128 Afrikaanse kinders in die woonbuurt Robindale by hul nuwe skool opgedaag: Robindale Laerskool.
Die waarnemende hoof, mnr. P.W. van Opperman, en vier van sy assistente het die kinders verwelkom.
Die grade en leerlinge was soos volg versprei:
- 39 kinders in graad 1,
- 21 in graad 2,
- 27 in standerd 1 (Gr. 3),
- 18 in standerd 2, Gr. 4)
- 14 in standerd 3 (Gr. 5), en
- Slegs 9 in standerd 4 (Gr. 6).
Daar was op hierdie dag geen standerd vyf (Gr. 7)-leerlinge nie. Boeke en toerusting was ook nie dadelik beskikbaar nie, maar die skoolgebou self was gereed – teen ‘n prys waarvoor vandag net ‘n klein huisie gekoop sou kon word.
Die skool het bestaan uit drie blokke:
- Administratiewe blok en saal
- Tweede blok: Twaalf klaskamers, ‘n biblioteek en kleedkamers
- Derde blok: Vier klaskamers – twee vir graad 1 en twee vir graad 2
In die eerste bestaansjaar moes daar besluit word oor ‘n kenmerkende skooldrag. Die keuse het geval op koningsblou baadjies, grys winterrokkies, ougoud somerrokkies, en grys broeke en blou hemde vir die seuns.
Die skool het steeds ‘n naam nodig gehad. In 1960, Uniefees jaar, is die skool amptelik herdoop na Laerskool Unika. Aan die einde van die tweede kwartaal was die skool volledig ingelyf met sy nuwe naam, wapen en skooldrag.
Skoolwapen
Hande: Simboliseer vriendskap en hulp aan almal
Bybel: Die fondament van geloof, met ‘n opkomende son in die agtergrond.
Troffel: ‘n Teken van bouwerk, steen vir steen, geplaas op die kaart van Suid-Afrika.
Ons leuse: “ONS BOU!”
Hierdie simboliek word versterk deur die teks van Psalm 127: “As die Here die huis nie bou nie…”
Skoollied
Ons sal handhaaf ons skool en sy naam
Ons kinders van Unika saam
Met oë wat helder ver kan sien
Met harte wat vreugdevol dien!
Sonder vrees met geloof in die Heer
Sal ons strewe en werk en presteer
Aan ons Land en aan ons Nasie getrou!
Ons sal Bou, ons sal Bou, ons sal Bou!
Op die sportveld geniet ons die spel.
Ons weet dis die spangees wat tel
En wen of verloor tog sal ons speel
Steeds skoon en getrou aan die reël
Ons sal saamstoot en vorentoe beur
Ons is maats wat die toekoms trotseer
Aan ons Taal en aan ons Nasie getrou!
Ons sal Bou, ons sal Bou, ons sal Bou!




